Zim-immigrant-vrese ongegrond (Beeld)

Vrese dat verslapte visumvereistes vir Zimbabwiërs die sluise vir duisende meer immigrante sal ooptrek is ongegrond, het kenners gister gesê. Die departement van binnelandse sake se besluit om visums onnodig te maak vir Zimbabwiërs wat Suid-Afrika vir minder as 90 dae besoek, sal eerder help om misdadige bendes vas te vat wat jag maak op desperate Zimbabwiërs wat die grens onwettig probeer oorsteek.

Hulle word deur krokodille gebyt, in die Limpoporivier meegesleur, verkrag en uitgebuit deur werkgewers wat minimumloon-reëls verontagsaam wanneer ongedokumenteerde immigrante vir werk aanklop. Die departement het eergister ook aangekondig Zimbabwiërs sal enige reisdokument wat in Zimbabwe geldig is, nie net paspoorte nie, kan gebruik om Suid-Afrika binne te kom. Dieselfde reël sal Suid-Afrikaners egter nie ook geld nie, het me. Cleo Mosana, woordvoerder van me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van binnelandse sake, gister gesê.  Suid-Afrikaners moet steeds paspoorte hê om Zimbabwe te besoek, maar geen visums nie.

Die verslapping van visumvereistes vir Zimbabwiërs is gister wyd verwelkom deur menseregtegroepe wat al jare lank pleit om 'n billiker manier om die magdom Zimbabwiërs te hanteer wat 'n rand-inkomste gebruik om in Zimbabwe kos op die tafel te sit. Zimbabwe sluit nou aan by lande soos Lesotho, Botswana, Mosambiek, Swaziland, Angola, Mauritius en 'n rits Europese state waarvan burgers vir drie maande visumloos in Suid-Afrika mag wees.

Mosana het gesê die stap is gedoen om Suid-Afrika in pas te bring met 'n protokol wat lede van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) in 2005 aanvaar het om dit makliker te maak om grense in die streek oor te steek. Me. Tiseke Kasambala van Human Rights Watch (HRW) het gesê die nuwe reëls kan die doodsklok help lui vir misdadigheid aan Suid-Afrika se Zimbabwe-grens omdat baie Zimbabwiërs tot dusver op smokkelbendes moes steun om die land onwettig binne te kom. Dit kan ook die geweldige druk op Suid-Afrika se asielaansoekstelsel help verlig.

"Die oorsteek van die grens sal nou beter gereguleer kan word," het Ka-sambala gesê. "As dit . . . in werking gestel word, sal dit die las op die asielstelsel verlig en ander buitelanders . . . beter toegang tot die stelsel gee."

Me. Kaajal Ramjathan-Keogh van Regslui vir Menseregte (LHR) sê vrese dat Zimbabwiërs Suid-Afrika nou opnuut sal instroom, is ongegrond. "Ons het dieselfde vrees gehad toe visumvereistes vir Mosambiekers laat vaar is, maar dit het nie gebeur nie. Al wat dit gedoen het, is om wettige immigrasie aan te moedig. Immigrasie van Zimbabwe sal in elk geval voortgaan. Maar as jy dit wettig, maak mense eerder daarvan gebruik omdat dit hulle minder kwesbaar maak."

Waldimar Pelser